By Stoffberg klop die netbalharte warm en hard. Hierdie uiters kompeterende spansport gee aan die dogters die ideale geleentheid om as individu en as lid van ‘n span te ontwikkel op alle terreine. Dit bied die dogter ‘n vroulike, atletiese sport om as dames te groei en ‘n gesonde liggaam en gees te huisves. Ons begin vroeg elke jaar met proewe om spanne te kies en toer dan die eerste naweek na die Interhoër atletiek byeenkoms na Klein Kariba. Klein Kariba is ‘n juweel geleë in die mooiste klowe van die Waterberge. Melinet bied dan vir ons ‘n omvattende kursus aan en sluit verskeie ervare en talentvolle afrigters by hierdie kursus in. Dan skop ons af met die NWU 16 sporreeks waaraan 16 uitsoekskole deelneem. Die Eerstespan toer na Mosselbaai gedurende die Aprilvakansie, waar van die beste skole in die land dan meeding teen mekaar. Die liga neem aanvang binne die eerste twee weke van die tweede kwartaal. Al die wedstryde vind gedurende die week plaas en die dogters leer om goeie balans te handhaaf tussen hulle akademie en sport. Stoffies lewer elke jaar ‘n hele paar ligawenners op en dit maak die afrigters en skool baie trots. Stoffberg beskik ook oor ‘n binnenshuise netbalbaan en hier speel die dogters in die vierde kwartaal teen ander skole om vroeg reeds die spanne vir die opeenvolgende jaar uit te sorteer. Die laerskole in die omgewing kom speel ook dan weekliks lekker saam binnenshuis. Stoffberg lewer al vir baie jaar briljante spelers op wat teen spelers in die grootste skole in Gauteng meeding vir ‘n plekkie in die Gauteng-span. Ons kan met trots sê dat Stoffiespelers elke jaar uit alle ouderdomsgroepe gekeur word om aan hierdie proewe deel te neem. Netbal skep die geleentheid vir elke dogter om te groei en gebalanseerd te leef in ‘n veilige, gesonde omgewing. In die derde kwartaal neem ons spanne ywerg deel aan 'n fast-5 liga waar ons besonder goed presteer. |